Dag 21

Dag 21: STREK


Seer rug, stywe heupe? 

Ons almal weet – om beserings en styfheid te voorkom –  is dit belangrik om ná ’n oefensessie te strek, maar as jy ook elke dag ’n paar strekke doen ongeag of jy oefen,  kan dit jou rugpyn, stywe spiere en stram heupe verlig.

Doen hierdie strekke vandag. Jy kan dit ook ’n paar keer per week doen en jy sal voel hoe jou soepelheid verbeter.


Strek: Rug |Hamstrings | Bolyf


Staan ’n entjie agter ’n stoel. Leun vorentoe uit jou heupe en reik terselfdertyd met jou arms uit om die stoelleuning vas te vat.  Jou bene is reguit, maar hou jou kniëe ontspanne. “Hang” so aan die stoel se leuning en stoot jou boude agtertoe, sodat jy ’n lekker strek in jou rug, agter-bobene en bolyf voel.

Hou die posisie vir 30 – 60 sekondes lank.



Strek: Boude | Heupe | Rug


Lê op jou rug met albei bene gebuig en voete opgelig van die vloer. Kruis jou linkervoet oor jou regterbeen en hou jou linkerknie uitgedraai na die kant. Jou regterbobeen is gebuig. Hou jou regter bobeen vas met albei jou hande en trek stadig die regterknie na jou toe. Voel die strek in jou linker-boud en heup asook in jou agter-bobene (hamstrings) 

Hou die posisie vir 30 sekondes en herhaal dan met die ander been.