Dag 14

Dag 14 : Strek die Bene & Rug


Julle het hard gewerk hierdie week. Wanneer ‘n mens oefen en reg eet, voel jy goed, gesond en gemotiveerd. Om die week af te sluit gaan ons lekker strek vandag.


Quad-strek


Kom in die posisie soos in die foto.

Linkerbeen voor (90º gebuig) en regterbeen ver na agter. Regterknie rus op die grond. Stoot jou heupe vorentoe en voel die strek in die voorste deel van jou regter bobeen (agterste been), asook in die hamstring van jou voorste been. Hou die strek so vir 30 sekondes en ruil dan bene.


Strek Rug en Hamstrings


Hamstrings en rug

Met dié oefening strek jy die agterste deel van jou bobene asook die spiere in die boonste deel van jou rug en aan die een kant van jou lae rug. Sit op die grond met jou linkerbeen reguit vorentoe getrek en jou regterbeen na binne gebuig.

Buig stadig met jou bolyf vorentoe totdat jy die strek agter die linkerbobeen voel. Draai nou jou bolyf na links terwyl jy vorentoe bly leun en plaas jou regterhand aan die buitekant van jou linkerbeen. Plaas jou linkerhand verder na die linkerkant vir ondersteuning. Hou die posisie vir 20 sekondes lank. Herhaal met die regterbeen vorentoe gestrek.