Dag 17: Oefening vir Selluliet


Vandag is ’n rustige dag. Ons gaan net 2 oefeninge doen vir selluliet. Gereelde oefening speel ‘n groot rol, want enige vorm van oefening bevorder jou bloedsirkulasie. Dit verlig spanning en dit help selfs met die probleem van hardlywigheid. Die 2 oefeninge wat ek hier onder demonstreer, sal help om die bloedsirkulasie in die sitvlak, heupe en bobene te bevorder. Jy kan dit vandag en élke dag doen. Jy hoef nie op te warm nie en jy kan dit op enige plek doen – selfs terwyl jy TV kyk. Dit neem nie veel tyd in beslag nie en jy kan dit met jou daaglikse oefenprogram kombineer.

Oefening vir Selluliet


Beskrywing Van Oefeninge.

  1. Rol van Kant tot Kant
    Sit op die vloer met jou knieë gebuig en jou voete bymekaar. Plaas jou hande agter jou op die grond om jouself te stut. Rol nou van kant tot kant deur albei bene eers na links en dan na regs te kantel. Hou jou bolyf stil en jou voete en knieë bymekaar. Hierdie oefening bevorder nie net die bloedsirkulasie in jou agterstewe nie, maar werk ook goed vir jou middellyf- en maagspiere. Onthou dus om jou maag in te trek om só die oefening meer doeltreffend te maak. Doen 50 herhalings. Doen 3 stelle.
  2. ‘Stap’ op jou sitvlak
    Sit op die vloer met albei bene voor jou uitgestrek. Hou jou rug regop en jou maag ingetrek. Kruis jou arms voor jou, maar hou jou elmboë gelig vir beter balans. “Stap” nou vorentoe op jou sitvlak vir 8 tellings en dan weer terug vir 8 tellings. Hou so aan vir ’n minuut lank. Doen uiteindelik 3 stelle.

Leave a Reply