Dag 03: Oefening vir Selluliet


Vandag is ’n rustige dag. Ons gaan net 2 oefeninge doen vir selluliet. Gereelde oefening speel ‘n groot rol, want enige vorm van oefening bevorder jou bloedsirkulasie. Dit verlig spanning en dit help selfs met die probleem van hardlywigheid. Die 2 oefeninge wat ek hier onder demonstreer, sal help om die bloedsirkulasie in die sitvlak, heupe en bobene te bevorder. Jy kan dit vandag en élke dag doen. Jy hoef nie op te warm nie en jy kan dit op enige plek doen – selfs terwyl jy TV kyk. Dit neem nie veel tyd in beslag nie en jy kan dit met jou daaglikse oefenprogram kombineer.

Wen Die Stryd Teen Selluliet


Dit het allerhande snaakse name: haelskade, lemoenskildye, maaskaasdye. Maar wat is selluliet nou eintlik?


Oor selluliet bestaan ’n hele klomp teorieë. Maar dit maak nie saak of dit gewone vet is wat op al die probleemareas saampak en of dit ander soort vetselle is nie – meer as 80 persent van ons Evas ly onder dié vloek. Al meer navorsers skryf dit toe aan ‘n hormoonwanbalans of veranderinge. Die vroulike hormoon estrogeen blyk die groot sondaar te wees, daarom is dit moontlik dat die Pil, swangerskap en menopouse kan veroorsaak dat selluliet vorm.

Maar daar is ook ‘n hele paar ander faktore wat tot die vorming van dié onooglike kuiltjies kan bydra:

  • Verkeerde eetgewoontes
  • Lewer- en hardlywigheidsprobleme
  • Stres
  • Te min of geen oefening
Al dié faktore dra by tot swak bloedsirkulasie. Gifstowwe word opgebou en tussen weefsel vasgevang. Weens trae bloedsirkulasie kan die toksiene nie by die limfklier uitkom om uitgeskei te word nie. Die limfstelsel is verantwoordelik vir dreinering van afvalstowwe en as die limfklier nie kans kry om die afvalstowwe uit te skei nie, vorm selluliet.

Wenke


  • Let op jou dieët. Wees versigtig vir te veel kafeïen. Nie meer as 4 koppies koffie per dag, of selfs minder as jy ’n groot probleem het. Wees ook versigtig vir alkohol, nikotien, sout en preserveermiddels. Eet baie vars vrugte en groente en drink baie water.
  • Gebruik aanvullende vitamien A, C en E.
  • Massering is baie doeltreffend, want dit bevorder ook die bloedsirkulasie en is saam met oefening ‘n móét. Skaf ‘n goeie sellulietroom of –jel aan. Onthou, dit sal net werk as jy dit elke dag doen. Jy kan dit selfs aansmeer voordat jy die oefeninge doen wat ek hier demonstreer.

Oefening vir Selluliet


Beskrywing Van Oefeninge

  1. Rol van Kant tot Kant
    Sit op die vloer met jou knieë gebuig en jou voete bymekaar. Plaas jou hande agter jou op die grond om jouself te stut. Rol nou van kant tot kant deur albei bene eers na links en dan na regs te kantel. Hou jou bolyf stil en jou voete en knieë bymekaar. Hierdie oefening bevorder nie net die bloedsirkulasie in jou agterstewe nie, maar werk ook goed vir jou middellyf- en maagspiere. Onthou dus om jou maag in te trek om só die oefening meer doeltreffend te maak. Doen 50 herhalings. Doen 3 stelle.
  2. ‘Stap’ op jou sitvlak
    Sit op die vloer met albei bene voor jou uitgestrek. Hou jou rug regop en jou maag ingetrek. Kruis jou arms voor jou, maar hou jou elmboë gelig vir beter balans. “Stap” nou vorentoe op jou sitvlak vir 8 tellings en dan weer terug vir 8 tellings. Hou so aan vir ’n minuut lank. Doen uiteindelik 3 stelle.

Comments 2

  1. Goeie Dag,

    Ek sien Linda stel voor dat koffie beperk moet word – ek neem aan die vir die kaffeine. Sluit dit green tea in? Sal green tea aanbeveel word?

    Baie dankie!

    1. Hallo Yolandi

      Linda beveel aan dat jy jou koffie beperk tot 4 koppies ‘n dag.
      Koffie is ‘n stimulant en oormatige gebruik het nadele inhou soos afname in konsentrasie en angstigheid.
      Kaffiene kan ook verslawend word.
      Koffie met suiker en melk bevat baie kilojoues wat jy nie wil inneem as jy gewig wil verloor nie.
      Groentee is beslis op Linda se eetplanne aan te beveel.
      Groentee het antioksidante en voedingswaarde. Dit help ook met gewigsverlies omdat dit vetverbranding aanhelp en metabolisme verhoog.

      Groete
      Lize (Biokinetika)
      LINDA KRIEL FITNESS.

Leave a Reply