Welkom by die Fiks & Fabulous Plan


Hallo Daar!


Baie welkom by die Fiks & Fabulous Program. Ek is só trots op jou dat jy die eerste stap geneem het na ‘n fikser, gelukkiger en gesonder JY! Onthou, jy is nie alleen in hierdie program nie. Gaan skakel in by my geslote Facebook groep: Fiks & Fabulous waar ons mekaar gaan motiveer om die beste uit die program te kry!
Kliek Hier vir die geslote Fiks & Fabulous Facebookgroep

Die Pad na Fiks en Fabulous


Wees spesifiek oor jou oefen doelwitte


Vroue word deesdae so oorval met inligting oor al die voordele wat oefening inhou. Alhoewel hulle nie daarvan hou nie, weet hulle, hul moet ‘n doelgerigte besluit neem om te oefen. Sodra jy tot daardie besef gekom het, moet jy onmiddellik die redes neerskryf waarom jy wil oefen.

Wees spesifiek. Moenie bloot sê dat jy fiks en gesond wil wees nie. Sê eerder: “Ek wil my bikini hierdie Desember dra,” of: “Ek wil oor twee maande, ten minste 10 kilometer met gemak, saam met my man kan stap.”

Plak jou lysie orals op waar jy dit kan sien. Sodoende sal jy jouself herinner, aan dit waarmee jy besig is en die voordele wat dit uiteindelik vir jou gaan inhou.


Byt vas, want aanhouer wen


Navorsing bewys dat baie mense ná ’n maand sommer handdoek ingooi en dan in ’n bose kringloop beland. Jy glo jy gaan dit nooit regkry nie. Wanneer jy dit dan die volgende keer probeer, gaan jy nog makliker tou opgooi.

Die geheim is om geduldig te wees en vas te byt. Dit neem tyd om in die oefenpatroon te kom en dit ’n roetine te maak. Al wil jy dus tou opgooi, byt vas, want die beloning gaan uiteindelik groot wees.

Probeer om nie een dag oor te slaan nie, maar indien dit wel gebeur moet jy die volgende dag dadelik jou program hervat. Moenie 2 dae na mekaar van die program afwyk nie.

Onthou…’n Mens hoef nie in ‘n nommer 8 rok te pas om fabulous te wees nie. As jy oefen en reg eet sal jy fabulous voel en boonop sal die kilogramme begin wegsmelt.

Jou Program is aanlyn beskikbaar vir 6 Maande


Fiks & Fabulous is ‘n internetprogram en as jy dus jou oefenprogramme wil uitdruk (print) kom dit nie mooi uit nie. (wenk: neem “screen shots” van die oefenprogramme dan het jy vir altyd die foto’s). Jou eetplanne is in pdf formaat en kan mooi uitgedruk word. Die 3 weke program sal vir 6 maande aanlyn beskikbaar wees vir jou. Ná die program kan jy my 21 Dae Kick-start en 3 Weke 3 Punt Plan ook doen. Met nuwe eetplanne en oefenprogramme. Sien winkel op die webwerf: www.lindakriel.co.za


Só Werk die program:


  • Neem Jou Selfie:

    ’n Goeie idee is om – voordat jy begin met die program – jou mates of ’n selfie te neem sodat jy “before” en “after” foto’s kan hê vir jouself. Wenk: Wanneer jy jouself afneem, staan in ’n gymbroek en oefentoppie (wat jou maag wys) of bra. Staan gemaklik met jou gewig eweredig versprei wanneer jy die foto neem en staan ontspanne sonder om jou maag in te trek. Wanneer jy aan die einde van die 3 weke weer ’n foto neem moet jy dieselfde klere aanhê.


Begin met die Detoks Plan:


Baie mense hou nie van detoks nie, of kry dit nie reg om vol te hou met ’n suiweringsplan nie. Die Detoksplan is slegs vir een dag. Dit is opsioneel, maar ek beveel dit ten sterkste aan, om dit die dag voordat jy met jou eetplan begin, te doen.

Jy kan dit ook een maal per week of 1 maal per maand doen. Leer om na jou liggaam te luister. As jou vel en hare dof raak of as jy soggens moeg opstaan, het dit nie net tyd geword vir suiwering nie, maar ook vir ’n totale herevaluering van jou leefstyl.

Let wel: Mense met chroniese siektetoestande soos diabetes, hipoglisemie, harttoestande, jig ensovoorts moet liefs nie die detoksplan volg nie, of doen dit onder ’n dokter se toesig.

Volg een van die 21 Dae Eetplanne


Jy kry twee 21 Dae eetplanne waaruit jy kan kies: Die Lae GI koolhidraat eetplan en die Banting eetplan. Bestudeer dit noukeurig en besluit watter een jy wil volg. Dit is twee uiteenlopende eetplanne en moet glad nie gekombineer word nie. Jy moet óf HOË VET eet en al jou stysel en suiker uitsny met die Banting plan óf jy moet LAE VET of vetvry eet as jy die Lae GI Koolhidraat plan volg.

Let Wel: Indien jy enige allergieë of probleme het met sekere kosse in enige van die twee eetplanne, of dit wil aanpas vir jou gesondheidsbehoeftes, gaan bespreek dit asb met jou dokter of dieetkundige. As jy nie seker is watter eetplan vir jou is nie, kan jy eers die een eetplan doen vir 2 of 3 weke en dan die ander een en dan jou besluit neem.

  • Let Wel:

    Jy kan die 21 Dae eetplan kombineer met die 7 Dae eetplanne van die 3-Weke-3- Punt Plan en die 21 Dae Kick-start. Die idee is dat jy jou dieetplan deel van jou leefstyl maak. Dus kan jy sekere kosse met ander in dieselfde groep vervang as daar iets is waarvan jy nie hou nie. Onthou, hierdie eetplanne is vir VROUE wat gewig wil verloor. As manlief saam met jou die plan volg kan sy porsies 1,5 keer groter of dubbel wees. As jou kinders dit saam volg, maak seker dat hulle genoeg eet vir hulle behoeftes. Indien jy enige allergieë of probleme het met seker kosse in enige van die twee eetplanne, of dit wil aanpas vir gesondheidsbehoeftes, gaan bespreek dit asb met jou dokter of dieetkundige.

  • Banting:

    Banting is vir mense wat sukkel om gewig te verloor as hulle koolhidrate (brood, aartappels, rys, suiker en ander stysel) eet. Koolhidrate en suiker veroorsaak dat jou insulienvlakke styg en daarom voel jy ook chronies honger en kry “cravings”. Dit is die ideale plan vir mense wat insulienweerstandig is en ook vir mense wat aan vetsug ly. Dit is ‘n Lae Koolhidraat, Hoë Vet eetplan waar jy stysel en suiker heeltemal uitsny en meer goeie vet in jou eetplan toelaat. Met ander woorde – as jy opgeblaas voel nadat jy brood of stysel geëet het, of as jy gewig optel sodra jy stysel of suiker eet, is dít die eetplan vir jou. Die koolhidrate wat jy inneem is in die groente. Jy kry jou energie van “vet”, met anderwoorde olyfolie, botter, volroom produkte, kaas ens. Nuutste navorsing het bewys dat dit nie vet in jou dieet is wat hartsiektes veroorsaak nie, maar wel verfynde koolhidrate en suiker. Hierdie eetplan is saamgestel deur Anel Kirsten, ’n dieetkundige van die Kaap.

  • Belangrik:

    Met die Banting leefstyl eet mens net as jy honger is. Hierdie eetplan is dus net ’n riglyn. As jy nie honger is nie kan jy etes oorslaan. As jy honger raak tussen maaltye dan het jy nie genoeg vet ingeneem in jou vorige maaltyd nie.

  • Lae GI:

    Mense wie se insulienafskeiding gereeld die hoogte inskiet, sukkel om gewig te verloor. Koolhidrate veroorsaak skommelinge in jou insulienvlakke. Daarom verloor mense meer en vinniger gewig op die Banting Eetplan, want daarin is géén koolhidrate (stysel en suiker) nie, behalwe natuurlik in die groente. Indien jy egter NIE koolhidrate in jou dieet wil beperk tot net groente nie, maar steeds brood, pasta en aartappels wil eet, volg dan die Lae GI plan. Geen verfynde meel nie, geen witbrood, koek ens nie, maar wel stysel met lae GI indeks. Dit is koolhidrate wat energie stadig vrystel. Omdat jy egter koolhidrate in die eetplan kry, is dit ‘n lae vet eetplan. Moenie koolhidrate en hoë vet kombineer nie! Enige eetplan werk, die vraag is, kan jy daarby hou? Kies dus ‘n eetplan waarby jy vir die res van jou lewe kan hou. Gee jou eetplan ten minste ‘n week kans, jy kan altyd later verander as jy nie van die een hou nie.

  • Suiker en Heuning

    Suiker is taboe met die Bantingplan, maar ek raai dié aan wat my Lae GI eetplan volg om ook suiker uit te sny. Suiker is nie Lae GI nie en dit gee vir jou skommelinge in jou bloedsuikervlakke, wat veroorsaak dat jy heeltyd honger voel. Gebruik eerder Xilitol of Stevia. Ander kunsmatigeversoeters het ook ‘n invloed op jou bloedsuikervlakke. Heuning het wel baie gesonde eienskappe, maar as jy probeer gewig verloor, eet dit baie matig verál as jy insulienweerstandig is. Een teelepel heuning bevat 92 Kilojoules; 1 teelepel suiker bevat 67 Kilojoules; 1 teelepel Xylitol bevat 40 Kilojoules.

  • Oefen Reg:

    Opwarming: Voordat jy begin oefen moet jy altyd eers goed opwarm vir 3 – 5 minute. As jy nie goed opwarm nie, kan jy beserings opdoen. Sien ’n voorbeeld van ’n geskikte opwarming in Inleiding hier onder. Strek: Dit is goed om te strek na ’n oefensessie en ook wanneer jou spiere styf is.

Jou oefenprogram vir die Fiks Fabulous Plan gaan soos volg lyk:


  • Maandae: Rondte-oefening
  • Dinsdae: HIWO (Hoë Intensiteit Wissel-Oefeninge)
  • Woensdae: Selluliet wenke + Rus
  • Donderdae: Rondte-Oefening
  • Vrydae: Lang Kardiosessie + maag
  • Saterdae: Blits-program
  • Sondae: Rus

Met elke oefenprogram het jy ’n keuse tussen:


Beginnersvlak


Beginner = B

Middelvlak


Middelvlak = M

Gevorderd


Gevorderd = G


Motivering en beplanning speel ’n groot rol in die sukses van gewigsverlies en die aanleer van nuwe gesonde gewoontes. Maak seker dat jy elke aand wanneer jy in die bed klim die volgende dag deurdink en beplan. Sit jou oefenklere reg, beplan hoe laat jy gaan oefen en maak seker jy weet wat jy gaan eet.

Jy is oppad na ’n nuwe Fiks & Fabulous JY!
Fiksheids-Groete
Linda Kriel


Vrywaring:


Linda Kriel se aanlyn-programme, asook gebruik van DVD’s en boek:

Die inhoud van Linda Kriel se programme is slegs vir inligtingsdoeleindes en nie om sekere toestande te behandel nie. Indien jy bo 60 is, enige gesondheidsprobleme het of nie seker is of jy kan oefen nie, gaan bespreek dit asb eers met jou dokter. As jy swanger is kan jy die beginnersvlak saamdoen MAAR jy moet eers toestemming by jou dokter kry voordat jy die program doen.

Die oefenprogramme sluit in kardio-sessies, Hoë intensiteit wisseloefeninge asook spieropknapping (soms met ligte gewiggies) en daar is ’n onderskeiding tussen Beginners, Middel- en Gevorderde Vlak. Behalwe in die DVD’s waar daar vir ’n Gemiddelde vlak gedemonstreer word.

Elkeen doen die program op sy eie risiko. Linda Kriel sal nie verantwoordelik gehou word vir enige beserings of ongesteldhede nie. Ons waarborg nie dat jy enige gewig gaan verloor deur die program te lees of te kyk nie. Jou resultate hang direk af van jou poging en die toepassing van die kennis wat jy opdoen.

Geen aanpassings sal privaat gemaak word op die oefenprogramme of eetplanne nie. Indien jy allergies of diabeties is en nie seker is of die eetplanne vir jou geskik is nie, kan jy die eetplan met jou dokter of dieetkundige bespreek. Jy is egter welkom om vrae aan Linda Kriel te stel op die webwerf en Facebook. Die 21 Dae program is beskikbaar aanlyn vir 6 maande nadat jy dit gekoop het. Linda Kriel behou die kopiereg op al die inligting in hierdie program en geen deel van die program mag in enige vorm versprei word nie.

DVD’s en Boeke:

Alles hier bo geld ook vir die gebruik van Linda Kriel se DVD’s en Boek, behalwe dat dit ’n produk is wat aan jou gepos word. Pakkies word gepos van poskantoor tot poskantoor. Laat asb 5 tot 10 werksdae toe vir aflewering.

Comments 22

    1. Hallo Thia

      Baie geluk met jou swangerskap.
      Jy mag ongelukkig NIE Detoks tydens swangerskap nie.
      Ons dieeetkundige beveel ook aan dat jy die Lae GI eetplan volg:
      “Jy kan die Lae GI Eetplan volg as jy swanger is en borsvoed. Jy kan dit net effens aanpas by jou behoeftes. Die eetplan is 5000 tot 5200 kJ. Die hoeveelheid kaloriëe wat ‘n normale gewig persoon kan inneem tydens swangerskap is ongeveer 1800 kalorieë (dit is 7500 kilojoules) per dag in die eerste trimester en in die tweede trimester ongeveer 8500 kilojoules en in die derde trimester ongeveer 10 000 kj (2400 kaloriëe). So, maak net jou porsies bietjie groter of jou peuselhappies meer, maar bly by die plan, want dit is gesond vir jou en baba.”
      Sterkte met die nuwe baba oppad!

      Groete
      Lize (Biokinetika)
      LINDA KRIEL FITNESS

  1. Goeie middag Linda en Lize!
    Ek het vandag begin met die Fiks en Fabulous plan. Ek het net ‘n paar vrae ivm die porsies en slaaie.
    1. Is die vleis/vis/hoender porsies wat aangedui word, rou of gaar gewig?
    2. Is groenslaai net blare?
    Baie dankie
    Riana

    1. Hallo Riana

      Ek neem aan jy volg die Lae GI eetplan.
      1. Die vleis/vis/hoender is gaar of gereed-om-te-eet gewig.
      2. Groenslaai is blaarslaai, komkommer, sprietuie/uie en tamatie
      Geniet die Fiks & Fabulous!

      Groete
      Lize (Biokinetika)
      LINDA KRIEL FITNESS

  2. Goeiemiddag.
    Ek het die Fiks en Fabulous plan ‘n week gelede gekoop en sien uit om te begin aanstaande week.
    Ek gaan die oefeninge natuurlik op beginnervlak begin. My vraag is; wanneer die 21 dae verby is; sal julle my aanraai om na die volgende middelvlak te gaan en dan weer na die volgende 21 dae na die gevorderde vlak of moet mens maar kyk hoe dit gaan en dalk bv twee keer die beginnervlak herhaal as jy baie gesukkel het en dan aanbeweeg?

    1. Hallo Maryke

      Ek weet jy gaan die eet- en oefenplan baie geniet.
      Ek sou aanbeveel dat jy 3-6 weke die beginnersvlak doen. Indien jy vind dit raak makliker kan jy die beginnersvlak se 2 rondtes doen en een rondte van die middelvlaK.
      Totdat jy 1 rondte beginnersvlak en 2 rondtes middelvlak maklik kan doen (3-6 weke) en dan verander jy stelselmatig oor van die middelvlak na die gevorderde vlak.
      Jy wil graag besering vry bly daarom is dit altyd beter om nie te vinnig te veel aan te pak nie.
      Jy moet na jou liggaam luister. Sommige dae voel ek af dan doen ek DIE middelvlak al het ek ‘n gevorderde vlak fiksheid.

      Groete
      Lize (Biokinetika)
      LINDA KRIEL FITNESS

    1. Post
      Author
  3. Hi Lize,

    Ek wil net graag weet of ek die volgende kan doen vir 3 middagetes ‘n week.
    3 Snye Pastrami en 5 provita’s met n hanvol kersie tamaties?

    Groete

    1. Hi Annemarie

      Ons Dieetkundige sê dis doodreg om vir 3 middagetes die Pastrami en provita’s te eet.

      Groete
      Lize (Biokinetika)
      LINDA KRIEL FITNESS

  4. Middag Linda

    Jy het ‘n rukkie terug genoem dat jy elke dag pynappel eet. Ek wil net weer weet wat die voordele daarvan is en wanneer en hoeveel pynappel ‘n mens per dag mag eet.

    Weereens baie dankie vir jou wonderlike programme! Ek geniet die oefeninge vreeslik en kan duidelik ‘n verskil sien. Wil net ook weet of dit nodig is om enige aanvulling soos bv ‘n tipe shake soos USN te gebruik om bietjie meer spiere te bou. Wil graag my spiere bietjie meer definieer.

    Baie dankie

    Vriendelike groete

    Belinda

    1. Post
      Author

      Hi Belinda

      Baie dankie, ek is bly jy geniet my programme! Ja, op ‘n stadium het ek elke dag ‘n halwe pynappel geëet, maar dit was toe ek nog in Natal gebly het (hehehe). Nou, in die Kaap is dit biejtje skaarser. Pynappel bevat bromelien (veral die middelste stronk gedeelte) en dit is baie goed vir vertering. As jy gewig wil verloor, Sal ek sê jy moet net so 3 skywe eet per dag, want onthou, dit bevat ook heewat vrugtesuiker. Dis bv ideaal om ‘n skuif pynappel direk na ete te eet.

      Wat die USN aanbesterf… hulle Diet Whey Isolean is Baie goeie manier om “leen muscle” te bou.

      Vriendelike grote
      Linda

      1. Middag Linda

        Ek het die Diet Whey Isolean gekoop en wil net weet wanneer die beste tyd is om dit te gebruik. Ek oefen gewoonlik in die oggend voor ek ontbyt eet. Kan ek dan die Isolean drink as my ontbyt of moet mens dit eers later in die oggend drink en ontbyt eet soos volgens die eetplan?

        Vriendelike groete
        Belinda

        1. Hallo Belinda
          Ek gee vir jou USN se antwoord op die Isolean produk.
          Whey Diet Isolean Benefits include:
          Building and maintenance of lean muscle mass. When you have more lean muscle your metabolism becomes faster and you burn more fat.
          Low in carbs, fat and sugar
          Contains L-Carnitine which turns your fat into fuel.
          Ideal as a snack replacement or to use in recipes and smoothies.
          Jy kan die Isolean drink voor oefen maar dan nie weer na ontbyt nie. As jou eetplan die Isolean 1 keer ‘n dag aandui moet jy nie meer as dit neem nie. Jy pas ‘n eetplan aan by jou leefstyl.
          Geniet die eetplanne en lekker oefen.
          Lize (Biokinetika)
          LINDA KRIEL FITNESS

    1. Hallo Hyla

      Baie dankie vir jou navraag. Hierdie is ‘n aanlyn program.
      Die program is beskikbaar vir jou op Linda se webwerf. Indien jy nie regkom nie, stuur vir my ‘n epos dan help ek met graagte.

      Groete
      Lize (Biokinetika)
      LINDA KRIEL FITNESS

  5. Hallo! Sal jul kan help asb. Ek is op die fiks en fabulous program maar nog nie op die groep nie. Ek het n request gestuur as jul my kan opsit asb?
    Baie dankie Anneke Olivier

    1. Post
      Author
    1. Hi Lize

      Linda ‘approve’ elke dag die faceboek geslote groep. Ek is seker jy is nou al ingesluit.
      Laat weet indien jy nog nie in is.
      Xxx
      Lize ( Biokinetika)
      LINDA KRIEL FITNESS

Leave a Reply